Thursday 20 September 2007

Die lang pad Suid - Argentinië

Ons was gedwing om ons oorsprongklike toerplan te wysig omdat van die roetes onbegaanbaar was weens swaar sneeu en reën. Dit het tot gevolg gehad dat ons twee dae op busse spandeer het en die heelpad lyk die omgewing soos die Karoo net met bietjie minder lewe. Om die suide van Pategonië te bereik, moes ons al die pad tot aan die weskus van Argentinië ry, toe eers kon ons suid vorder, daarna weer noord-oos om El Calafate te bereik. Dit is ´n wye draai en in Argentinië (8e grooste land in die wêreld) kry wyd nuwe betekenis, maar dit wat ons hier Suid (soos Tanne Hetta sal sê, stel haar binnekort voor) gesien het is ongelooflik en was elke minuut op die bus werd.

Due to snow and rain a lot of the main routes south were closed and we had to ammend our original plan. The effect of this was that we had to take a two and a half day bus trip via the West coast down to El Calafate.

Ons het busritte het so uitgewerk dat ons agt ure in Comodoro Rivadavia aan die weskus moes oorstaan. Dit is nie ´n mooi stad nie, amper soos ´n Beaufort-wes langs die see en ook nie ´n mooi see nie, swart klippies strande ens.

Wat wel die agt ure opgekikker het was die heerlike vleis wat ons by die supermark se kafeteria geëet het, dit het al die Parilla´s wat ons tot dusver by restaurante geëet het uitgestof, en ons kuier by Tannie Hetta.

Na die Boere oorlog het verskeie boer gesinne die Engelse juk ontduik deur in Argentinië te kom boer waar hulle plase aangebied is in hierdie karoo-agtige landskap waardeur ons uur-na-uur gery het.

Gert het verlede jaar met die Rio Negro kanowedvaart een van die oorspronklike immigrante se kleindogters ontmoet. Ons het haar gekontak en sy het laat weet dat ons haar suster (Tannie Hetta) moet gaan opsoek in Comodoro. Ons het so gemaak. Ons is met ´n kus ontvang en is bederf met tee en ´n berg koekies. Tannei Hetta praat nog vlot Afrikaans met nou en dan ´n "ou" woord soos: "alger het gehelp". Sy bak melktert en gaan NG kerk toe. Haar kinders en kleinkinders kan nie Afrikaans praat nie, want haar oorlede man was Spaans, nietemin doen haar kleinkinders volkspele met die rokke, kappies, onderbaadjies en als. Die Afrikaanse gemeenskap en hulle gesinne in Comodoro is baie aktief ten spyte daarvan dat meeste gades en kinders Spaans praat. Hulle reël gereeld byeenkomste, dit is dan wanneer die kleinkinders volkspele doen en daar groot gebraai word, nie dat dit vreemd is vir die Argentyne wat parilla ken nie. Tannie Hetta weet nie hoe lank die NG kerk in Comodoro nog gaan bestaan nie, glo stry die lede baie, defnitief ons bloed.

Nadat ons ´n weg deur die koekies geëet het, het Tannie Hetta se seun, Tony, ons kom oplaai om ons die dorp te gaan wys. Eers het hulle met Comodoro se strandhuise gespog (nie heeltemal Kampsbaai nie), waarna ons by Oom Blackie se bakkery aangery het.

Oom Blackie (68) is al 10 jaar ´n bakker. Voor dit het hy bietjie geboer, trokke bestuur, klas gegee en so tussendeur reël hy toer na Suid-Afrika. Sy bakkery verkoop melktert en koeksusters, maar sy hoof produk is "toebroodjie-brood". Dit is 14kg brode wat ongeveer 80cm lank en 30x30cm hoog/breed is. Dit vat byna ´n dag om die brode te bak van begin tot einde. Nadat dit vir twee dae gestaan het om af te koel word al die korsies afgesny (dit word vir die varkies (sic) gevoer). Dit word dan opgesny en in pakkies gemaak wat aan toebroodjiefabrieke versprei word so ver as El Bolson, sowat nege ure van Comodoro af.
Nadat ons sy lemoenbroodjies geproe het was ons na sy huis toe sodat Gert hom kon vertel waarom die "proteas" wat hy van saad gekweek het nie blom nie. Sy huis is vol Africana, klein ossewa, Springbokvel, KWV 10 jaar, een van daai verbleikte vadoeke met die proteas en Uniegebou op.
Dit was heerlik om die mense te ontmoet, hulle gasvryheid was oorweldigend. Al praat hulle Afrikaans en doen volkspele, is hulle trotse Argentyne wat beweer dat die Pumas die Bokke gaan ore aansit in die wêreldbeker.
Gert saam met Tannie Hetta en Oom Blackie by sy brode.
Gert met een van Oom Blackie se Toebroodjie-brode
Na nog ´n nag en halwe dag op die bus het ons uiteindelik El Calafate bereik. Hier het ons ´n motor gehuur en deur gery El Chalten toe. El Chalten is aan die voet van die Andes geleë en bestaan uitsluitelik vir toerisme. Daar is pragtige staproetes en dit is ook van hier af wat ervare bergklimmers die bekende piek, Fitz Roy, klim. Ons het twee nagte hier geby en die voldag wat ons daar was seker 30km gestap. Daar is nie veel fauna nie, net so nou en dan ´n lomp haas, ´n redelike verskeidenheid voëls en llamas. Die berge en omgewing is egter pragtig, foto´s verder is beter as woorde.
At El Calafate we rented a car and drove to El Chalten, a small touristy town at the foot of the Andes. This town serves as a base for all expiditions to the famous peak, Fitz Roy. This is a hiker´s paradise and we walked about 30km on various routes the day we spent there. The area is breathtaking.
Fitz Roy
Daarna is ons terug El Calafate toe. Hier het ons die bekende gletser Perito Moreno besoek, wat ´n gesig! Die gletser is 30km lank, 5km breed en 180m hoog, nie naastenby die grootste in die omgewing nie, maar die mees toeganklike. Gletsers is nooit stil nie, dit kraak altyd iewers en met wat klink soos donderweer val daar van tyd tot tyd stukke ys af in die meer. Ons het die eerste dag sewe ure gesit en kyk na die gletser, en gewag dat stukke ys afskeur. Ons is paar keer beloon vir ons wag, dit is ´n indrukwekkende ervaring, sien die foto´s hieronder. Nooit gedink om te kyk hoe ys smelt kan so opwindend wees nie.
In El Calafate we visited the Perito Moreno glacier. This is a spectacular site. The glacier is never silent. You can always here something breaking, or ice splitting in the background. When a piece of ice breaks away and falls into the lake, it sounds like thunder. We spend 7 hours watching the glacier, waiting for a piece to break off. Never thought watching ice melt would be so exciting. See the pictures below.
Die volgende dag het ons saam met ´n toergroep op die gletser gaan stap. Die enigste kleur wat gletsers weerskaats is blou weens die prisma-effek. Dit is ´n pragtige kristalblou en kan gesien word in die ou ys wat diep in die gletser vasgevang is. Na afloop van ons ysstap is ons Whisky on Ice aangebied, geen tekort aan ys nie.
The next day we went for a walk on the glacier with a tour operater. The ice reflects only the colour blue from the spectrum and produces an amazing crystal colour. We were treated to some whiskey on ice after the walk. No shortage of ice around.
Wil verder noem dat die hostelle in Argentinië waar ons gebly het ons baie beindruk het. Dit was elke keer baie netjies en bekostigbaar, ´n plesier om daar te bly.

Nou is oppad Chile toe, nog ´n bus en die keer grondpad.




























1 comment:

Die Vlokke said...

Dit lyk so mooi en uiters opwindend!